Tasché

Tasché steel harte sedert die blinde oudisie-rondtes van die laaste seisoen van The Voice SA. Met haar ongelooflike stem en boeiende optredes het die toe 19-jarige kelnerin van Brackenfell geskiedenis gemaak deur die jongste deelnemer en eerste vrou te word wat The Voice SA wen. Sou jy Taschévir die eerste keer ontmoet, sou haar fyn postuur jou nie kon voorberei op die groot stem nie, maar jy besef dadelik dat jy hier met ‘n formidabele mens te doen het. Jong dame dinamiet! Tasché sing al van kleintyd af, en nadat sy in 2018 gematrikuleer het, het sy sanglesse begin neem en professioneel begin optree.

Tasché was deurentyd die gunsteling tydens die derde seisoen van The Voice SA, en was onder die mentorskap van Francois van Coke. Nadat sy as wenner aangewys is, het Francois haar dadelik onder sy vlerk geneem en saam het hulle onmiddellik aan nuwe musiek begin werk. Haar eerste enkelsnit “Die Een” is in Augustus 2019 vrygestel en is opgeneem in Van Coke Studios in Kaapstad, met Hunter Kennedy (Die Heuwels Fantasties) en Richard Onraet (Die Gevaar) as medeskrywers, en Francois self as medevervaardiger. “Die ervaring van die opname van ‘Die Een’ was kranksinnig”, lag sy. “Die laaste keer wat ek in die ateljee was voor dit, was toe ek 13 was. Dit was ongelooflik om die keer agter die mikrofoon te kon inskuif en te sing hoe ek wil sing, my eie ding te doen en om te speel met alles wat ons vir ‘Die Een’ beplan het. Richard Onraet het my baie gehelp met harmonieë en dit was wonderlik om saam met almal ‘n cool liedjie op te neem. Ek is nou verslaaf”, sê Tasché.
Francois wou so veel as moontlik betrokke wees by die skepping van die “Die Een” en het vir die eerste keer in sy loopbaan die rol as vervaardiger tydens die opname van die enkelsnit aangeneem. “Tasché was baie betrokke by die skryfproses van “Die Een” en ek is baie trots daarop. Ek is baie bly dat ek deel was van hierdie proses. Dit is wat ek wou doen sedert ek haar op The Voice gesien het. Ek is bly om ‘n medevervaardiger op hierdie snit te wees. Dit gaan ‘n groot treffer wees!”, het Francois destyds gesê. “Die Een” was toe ook ‘n groot treffer, en ‘n voorloper vir haar self-getitelde debuut-CD wat in November verlede jaar die lig gesien het.
Die CD is hoendervleis-mooi! Daar is twee oorspronklike liedjies op, en Taschégee haar eie gevoelvolle interpretasie aan bestaande treffers soos “Lisa se Klavier”, “Ek skyn(heilig)”, “Vier Seisoene Kind” (duet saam met Francois van Coke) en “Bittermaan” (duet saam met Danie du Toit van Spoegwolf). “Ek is ‘n groot aanhanger van Spoegwolf en veral van Danie du Toit se skryfstyl”, sê Taschè. “Die manier hoe hy emosies in sy lirieke vasvang en deur musiek weergee, is verstommend. ‘Bittermaan’ is een van daardie liedjies wat met my praat en moes ek dit net op die CD insluit. Maar dis by ‘Lisa se Klavier’ waar alles begin het. Dis die liedjie wat gemaak het dat Francois my mentor geword het tydens die aanvanklike blinde-oudisies by The Voice, en moes ek dit net insluit. Francois wou ook graag ‘n duet saam met my doen op die CD, en dis hy wat Gian Groen se ‘Vier Seisoene Kind’ voorgestel het. Die liedjie is ‘n Afrikaanse juweel en is so ongelooflik goed geskryf!”. Taschéis dankbaar vir leiding en mentorskap wat sy sedert The Voice van Francois en sy orkeslede gekry het, en steeds kry. “Ek het daarom besluit om ‘Ek skyn(heilig)’ ook op die CD in te sluit. Dis my manier om dankie te sê”.
Tasché was onlangs ‘n groot treffer by die huldigingskonserte vir Gè Korsten, Gè Sing: Hoor My Lied! Sy het onder andere staande toejuigings ontvang vir haar vertolking van Frans Swart en Chanie Jonker se Gè Sing, ‘n liedjie vir Gè Korsten. Sy was ook deel van die Kersfees Skpuspel-konserte aan die einde van 2019. Tasché voel dat die musiek wat sy maak moet die harte aanraak van elkeen wat daarna luister, en dit is duidelik die geval met haar debtuualbum en lewendige optredes.
Tasché het intussen 20 jaar oud geword. Sy het gedurende lockdown ‘n nuwe album, “Acoustic Session”, uitgereik. Acoustic Sessions bevat nie net liedjies wat Tasché tydens The Voice SA 3 gesing het nie, maar ook persoonlike gunstelinge van haar, soos Chris Stapleton se “Tennessee Whiskey”
en Karen Zoid se “Engel”.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top